Bestel die PDF weergawe(s)

Hierdie is die huidige metode om die boeke in pdf formaat te bestel en dit word na betaling, aan u ge epos. Ons werk egter aan n nuwe metode wat u aanlyn kan betaal en om direk daarna n skakel te ontvang, waar u dit waarvoor u betaal het, kan aflaai. Intussen, kan u nog hierdie metode gebruik.

Verduidelikking deur die skrywer.

FH Pretoius (alias Oupa Baard) se twee boeke oor Siener van Rensburg se visioenêre verhaal: (a) Siener van Rensburg – profeet of waarsêer – Wat is die Waarheid?
(b) Wat kom ná Siener?
Let asseblief daarop dat die twee boeke tans slegs in elektroniese formaat beskikbaar is. En ek het nie net die prys daarvan al in sowat 2015 begin vashou nie, ek het dit ook in 2018 nog verder verlaag om u tegemoet te kom met die drukkoste op u eie drukker.

Geen skrywer kan die kopiëring en diefstal van sy werk keer nie en ek maak dus staat op u eerbaarheid om nie aan so ‘n strooptog op my boeke deel te neem nie! (Dit sluit natuurlik nie my artikels in nie, want dit is in die openbare omgewing.)

Albei boeke is in PDF formaat, (ARIAL 12pt) in
A4 grootte, en as u die titelblad van die boek(e) bykomend op gekleurde A4 karton druk het u meteens ook ‘n “buiteblad” om voor in u lêer in te voeg. Ek kan egter ook reël om die boek(e) na Kindle of Kobo formaat om te skakel as u dit so verkies. Laat weet asseblief net of u ‘n Kindle-leser het of bloot net ‘n Kindle app op ‘n I-phone, want die twee stelsels verskil ‘n bietjie van mekaar.

Die boeke kan apart van mekaar aangekoop word en die koste beloop soos volg:
(a) Siener van Rensburg – profeet of waarsêer – Wat is die Waarheid? = R200.00 (311 bladsye A4.
(b) Wat kom ná Siener? = R160.00 (153 bladsye A4 grootte).

Kontak my asseblief eers om ‘n bestelkode by my te kry wat u as verwysing op die depositostrokie moet aanbring. Asseblief, dit kan tot allerhande onnodige vertragings lei as u dit nie so doen nie en sommer maar net geld op my rekening inbetaal nie!
Die boek(e) sal onmiddellik per e-pos aan u versend word sodra my bank my per sms laat weet dat u inbetaal het. Hulle stuur die bestelkode wat ek aan u gee saam met dit en dan weet ek waarheen om die boeke te stuur.
 
My bankbesonderhede is soos volg:
F.H. Pretorius,
Capitec Bank Hatfield,
Takkode: 470 010
Rek nr: 1223 155 860
*SWIFT Code / BIC Code vir buitelandse gebruik: CABLZAJJ

Tevrede met die diens? Vertel u vriende daarvan asseblief!
Frik Pretorius.
————————————————————–
‘n Bonus.
Ons sien al meer dat die volk die baie “ontledings” en stories oor Siener begin bevraagteken. Hulle wil graag die visioene vir hulself deurgaan om hul eie mening te kan vorm, maar die aangetekende visioene is egter nie so geredelik
nie. Mense moet noodwendig die boeke aankoop waarin dit gepubliseer word en nie almal kan of wil dit doen nie. Dit is dan juis die basis van hul probleem en wat hulle bevraagteken! (Mnr. A Snyman gebruik byvoorbeeld net sowat twee-derdes van al die aangetekende visioene as n raamwerk om sy duimsuigstories op te baseer; die res van sy poging vorm deel van sy hanteerders en Kweenie se beplanning teen ons volk.)
Dit is egter nie so maklik om die visioenêre verhaal te kan identifiseer nie, daar is ongelukkig niks sie sala biem in hierdie proses nie, want
want dit het my die beste deel van amper tien jaar geneem om die verhaal te kon identifiseer en aan die volk te kon voorlê.
Daar is net een praktiese en sinvolle manier om die visioenêre verhaal uit te kan lê, en dit is volgens die metode wat die Gees my gelei het om te volg. Toets dan minstens my stelling as u dit nie so kan of wil aanvaar nie.
Wat dit betref het ek dus ‘n geskenkie vir u as u belang sou stel. Dit bestaan uit die aangetekende visioene van Siener van Rensburg in elektroniese formaat (op ‘n MS Word dokument),
saam met my werksmetode om Siener se visioene te kon ontleed.
Daar is baie kontroversie en teenstrydige onderstrominge rondom hierdie verhaal en ek het in Julie 2018 met ‘n poging begin om hierdie argumente te probeer ondervang en die spoke hieroor dood te slaan. Dit bestaan daaruit dat ek die aangetekende visioene saam met my werksmetode gratis en verniet beskikbaar stel aan wie ookal daarin belangstel. U kan dit by my aanvra
by fhpretorius@gmail.com om saam met my boek te gebruik om u begrip van die visioenêre verhaal makliker te maak. Die [ctrl] [f] funksie in u rekenaar maak dit baie maklik om my verwysings in die boek op te volg.
Weet egter een ding, daar is regtig niks “maklik en eenvoudig” hieraan nie, alles hiervan vra nog steeds harde en eerlike werk en verg ook baie geduld. Enigiemand wat my werksmetode verstaan en eerlik toepas sal dit egter kan doen. U moet maar net volhou daarmee!
My ontleding van Siener se visioenêre verhaal berus in absolute terme op die
aangetekende visioene wat AWG Raath en wyle mev. N van Zyl (Boy Mussmann se oudste dogter) in Die Vierkleur Wapper Weer gepubliseer het. En ek het reeds in my eerste boek erkenning en krediet hiervan gegee. My ontleding en verduideliking van die visoenêre verhaal fokus absoluut nét op hierdie visioene, en ek het geen ander buite-inligting geraadpleeg in hierdie verband nie; nie eers die Bybel nie!
My twee oudste seuns het my in 1994 gehelp om die aangetekende visioene in hierdie boek woord vir woord oor te tik, want dit was die
want dit was die enigste manier hoe ek my pad sinvol deur dit kon vind. Al wat dit van u vereis is dat u die rekenaar se soek funksie moet kan hanteer en dan natuurlik ook ‘n bietjie geduld. Dit neem tyd om die simbole en hul (ooreenstemmende) betekenisse te kan verstaan, en natuurlik ook om die spelling en beskrywings van die tyd baas te raak. Ons sien byvoorbeeld die oorgang vanaf Hoog-Hollands na die oervorm van Afrikaans in die taal waarin hierdie visioene aangeteken is, en dit lees soms moeilik.
Daar is net een logiese en praktiese manier om die visioenêre verhaal sinvol uit te kan lê en te verstaan, en dit is volgens die metode wat die Gees my gelei het om te volg. Hier is dit dan, kry vir u en geniet die reis!
————————————————————–
Scroll to Top